:: News
:: Grape Cultivars
:: Packing Process
:: Farm History
:: Farm Policy
:: Farm Description
:: Farm Layout
:: Farm Maps
:: Archives
:: Farm Facilities
:: Farm Characteristics
:: Management & Personnel
:: Investors in People
:: Accreditations
:: Naftali Wedding/Function Venue
:: Naftali River House
:: Naftali Roses & Herbs
:: Doorspring Friesperd Stoet
:: Contact Us
 
     
 
Soos 'n dief in die nag


Stil, soos 'n dief in die nag, het dit die plaas oorval. Die weervoorspellers het gesê die verwagte minimum is 10 grade celsius. Almal was verlig, want na twee weke van deurnag bande brand, kon almal doen met 'n goeie nagrus.

Swartryp - 'n koue wat die laaste druppeltjie lewe uit 'n druiwetros en blaar uitwurg, het ons plaas op een mooi Okteraand verwoes. Geleidelik het die werklikheid ingesink, en verbasing het plek gemaak vir paniek. My ma bel my - "Jy moet maar bid my kind."

Stadig, amper bang, loop my pa in die wingerdrye af. Hy vat saggies aan die trossies, swart en verrimpeld. Nog net twee maande was nodig voor hierdie trossie 'n volronde, sappige tros sou word - die trots van enige uitvoerboer.

Vir maande word die wingerdstok gepamperlang. Na die oes word sy blare 'n mengelmoes van intense kleure - roesbruin, goude, geel en rooi. In die winter gooi hy sy blare af, en dan word die lote teen die styf gespande drade opgevleg en die wilde takke netjies gesnoei. Na 'n lang, verdiende winterrus, wys die ou, bruin stompe in Augustus die eerste tekens van lewe. Orals begin klein, kraakvars blaartjies hulle verskynsel maak, en voor jy jou oë kan uitvee is die wingerd oortrek met 'n digte, lowergroen blaartapyt.

Desembers gons dit op die plaas, en daar is 'n aansteeklike opgewondenheid en energie in die lug. Daar is nie plek vir 'n muis in ons huis nie. Studente, skoolkinders, onderwysers en selfs die dominee kom help druiwe pak. Ekstra werkers word uit Kuruman aangery, en in die aandlug weergalm hulle liedjies in 'n vreemde taal.

Ek skrik wakker uit my dagdroom. Hoe gaan 'n Desember sonder 'n druiwe oes wees? Somervakansie was nog nooit vir my see nie. Eerder swem in die rivier, 'n oranje-rooi sonsondergang, druiwe eet tot my keel brand van al die soet, en wind-koel waatlemoen onder die poeierkwassie boom.
Ek stap tussen die wingerde in om die ryp van naderby te bekyk, dit kan seker nie so erg wees nie. Dit is 'n ontstuimige dag, die wind waai stof in my oë en dit blits in die verte. Ek stap in die wingerdry in. Ja, dit lyk erg. Ek stap nog dieper in, maar dit help nie. Die blare ís bruin, en die trossies lyk soos dwerg rosyntjies. Ek dink aan my pa - sy groot hande wat so versigtig met die druiwe werk.

Druiwe is te pieperig besluit ek - in die winter mag dit nie ryp nie, en in die somer kan dit nie reën nie, selfs die sterk rand is 'n bedreiging vir die waarde van die arme druiwetros. Nee, besluit ek, ek gaan met 'n bankbestuurder trou. Iemand wat nie omgee of dit reën, sneeu of hael nie.

"Hoekom," vra my pa. "Wat kon hy dan nog gedoen het?" Elke dag het hulle die weerkantoor gebel. Drie-uur het die plaasmense opgestaan en ou motorbande plek-plek aan die brand gesteek om 'n rookkombers oor die wingerd te vorm, en die ryp te verwilder. Nou weet ek waar daai ou gesegde vandaan kom - dit ís die heel koudste net voor die son opkom.

Druiwe kenners kom uit plaas toe, om te red wat daar te redde is. Dit is darem net vyf tot tien persent van die oes wat daarmee heen is, sê hulle.

Die plaas is stiller as gewoonlik, dink ek. So amper asof die ryp die opgewondenheid oor die oes ook kom doodryp het. Ek en my pa sit en praat onder die poeierkwassie boom. Hy kyk uit oor die wingerd - "Die Liewe Vader weet maar altyd die beste."

Twee weke later bel hy my - die stokke loop weer plek-plek uit! Ek stuur 'n skietgebed op - dankie vir die wonder van die natuur.

 
     
  Copyright © 2005 Rekopane Estates. All Rights Reserved
Designed and Hosted by: Upington-Online